Nehemía 13:2-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. omdat hulle die kinders van Israel nie teëgekom het met brood en water nie, en Bíleam teen hulle gehuur het om hulle te vervloek; maar onse God het die vloek in ’n seën verander.

3. En toe hulle die wet hoor, het hulle al die mense van gemengde bloed uit Israel afgesonder.

4. Maar tevore het Éljasib, die priester wat oor die kamers van die huis van onse God aangestel was, ’n verwant van Tobía,

5. vir hom ’n groot kamer ingerig waar hulle vroeër die spysoffer, die wierook en die gereedskappe en die tiendes van koring, mos en olie, die wettige aandeel van die Leviete en die sangers en die poortwagters, en die offergawe aan die priesters neergesit het.

6. Maar gedurende dit alles was ek nie in Jerusalem nie; want in die twee-en-dertigste jaar van Artasásta, die koning van Babel, het ek by die koning gekom; en ná verloop van tyd het ek verlof gevra van die koning

7. en na Jerusalem gekom. Toe het ek die kwaad opgemerk wat Éljasib gedoen het deur vir Tobía ’n kamer in die voorhowe van die huis van God in te rig.

8. En ek was erg ontstemd, sodat ek al die huisraad van Tobía uit die kamer buitentoe gegooi het,

9. met die bevel dat hulle die kamers moes reinig; en ek het die gereedskappe van die huis van God, die spysoffer en die wierook daarin teruggebring.

10. Ook het ek verneem dat die aandele van die Leviete nie gegee is nie, sodat die Leviete en die sangers wat die dienswerk moes verrig, elkeen na sy grond gevlug het.

11. En ek het met die leiers getwis en gesê: Waarom is die huis van God in verwaarlosing? En ek het hulle bymekaar laat kom en hulle weer op hulle pos aangestel.

12. En die hele Juda het die tiendes van koring en mos en olie na die voorraadkamers gebring.

13. En oor die voorraadkamers het ek Selémja, die priester, en Sadok, die skrywer, en Pedája, uit die Leviete, as skatmeesters aangestel; en as hulp vir hulle: Hanan, die seun van Sakkur, die seun van Mattánja, omdat hulle vertroubaar geag is; en hulle moes aan hulle broers uitdeel.

14. Dink hierom aan my, my God, en delg tog my liefdediens nie uit wat ek aan die huis van my God en aan die instellinge daarvan bewys het nie.

15. In dié dae het ek in Juda mense gesien wat op die sabbat die parskuipe trap en vragte koring, op esels gelaai, inbring, en ook wyn, druiwe en vye en allerhande vragte met goed, en dit op die sabbatdag in Jerusalem inbring; en ek het hulle gewaarsku op die dag toe hulle lewensmiddele verkoop het.

16. Ook die Tiriërs wat daar gewoon het, het vis en allerhande koopware ingebring en op die sabbat aan die kinders van Juda selfs in Jerusalem verkoop.

17. En ek het met die edeles van Juda getwis en vir hulle gesê: Watter verkeerde ding is dit wat julle doen, dat julle die sabbatdag ontheilig?

Nehemía 13