Matthéüs 27:31-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

31. En nadat hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die mantel uit en trek Hom sy klere aan en lei Hom weg om gekruisig te word.

32. EN toe hulle uitgaan, kry hulle ’n man van Ciréne, met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om sy kruis te dra.

33. En hulle het gekom op ’n plek wat Gólgota genoem word — dit beteken: Plek van die Hoofskedel —

34. en vir Hom asyn, met gal gemeng, gegee om te drink; en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie.

35. En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp.

36. En hulle het gaan sit en Hom daar bewaak.

37. En bokant sy hoof het hulle sy beskuldiging in skrif opgestel: DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE.

38. Toe word daar saam met Hom twee rowers gekruisig, een aan die regter- en een aan die linkerkant.

39. En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud

40. en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis!

Matthéüs 27