Matthéüs 13:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN op daardie dag het Jesus uit die huis uitgegaan en by die see gaan sit.

2. En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in ’n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan.

3. En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: ’n Saaier het uitgegaan om te saai;

4. en terwyl hy saai, val ’n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet.

5. En ’n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie;

6. maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.

7. En ’n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik.

8. En ’n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig.

9. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!

10. En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?

11. Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.

12. Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.

Matthéüs 13