52. maar hy het die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug.
53. EN hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester. En al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes het by hom vergader.
54. En Petrus het Hom van ver af gevolg tot binne-in die paleis van die hoëpriester, en het saam met die dienaars gesit en hom by die vuur warm gemaak.
55. En die owerpriesters en die hele Raad het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en hulle het niks gevind nie;
56. want baie het vals teen Hom getuig en die getuienisse was nie eenders nie.
57. En sommige het opgestaan en vals teen Hom getuig en gesê:
58. Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ’n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie.
59. En selfs so was hulle getuienis nie eenders nie.
60. Toe staan die hoëpriester in hul midde op en vra Jesus en sê: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U?
61. Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die geseënde God?
62. En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.
63. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig!
64. Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was.
65. En sommige het begin om op Hom te spuug en sy aangesig toe te maak en Hom met die vuis te slaan en vir Hom te sê: Profeteer! En die dienaars het Hom met stokke geslaan.
66. EN terwyl Petrus onder in die binneplaas was, kom daar een van die diensmeisies van die hoëpriester,
67. en toe sy Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: Jy was ook by die Nasaréner, Jesus.
68. Maar hy het dit ontken en gesê: Ek weet nie en begryp nie wat jy sê nie. En hy het buite na die voorplein gegaan; en die haan het gekraai.
69. En toe die diensmeisie hom weer sien, begin sy aan die wat daar staan, te sê: Hierdie man behoort by hulle.
70. Maar hy het dit weer ontken. En ’n bietjie later weer sê die wat daar staan vir Petrus: Waarlik, jy behoort by hulle, want jy is ook ’n Galiléër en jou spraak is net so.