Markus 14:51-62 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

51. En ’n sekere jongman met ’n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg; en die jongmanne het hom gegryp;

52. maar hy het die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug.

53. EN hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester. En al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes het by hom vergader.

54. En Petrus het Hom van ver af gevolg tot binne-in die paleis van die hoëpriester, en het saam met die dienaars gesit en hom by die vuur warm gemaak.

55. En die owerpriesters en die hele Raad het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en hulle het niks gevind nie;

56. want baie het vals teen Hom getuig en die getuienisse was nie eenders nie.

57. En sommige het opgestaan en vals teen Hom getuig en gesê:

58. Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ’n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie.

59. En selfs so was hulle getuienis nie eenders nie.

60. Toe staan die hoëpriester in hul midde op en vra Jesus en sê: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U?

61. Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die geseënde God?

62. En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.

Markus 14