Markus 14:5-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Want dit kon vir meer as driehonderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee geword het. En hulle het teen haar uitgevaar.

6. Maar Jesus sê: Laat haar staan; waarom val julle haar lastig? Sy het ’n goeie werk aan My gedoen.

7. Want die armes het julle altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar My het julle nie altyd nie.

8. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf.

9. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot ’n gedagtenis aan haar.

10. EN Judas Iskáriot, een van die twaalf, het na die owerpriesters gegaan om Hom aan hulle oor te lewer.

11. En toe hulle dit hoor, was hulle bly en het belowe om hom geld te gee. En hy het na ’n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.

12. EN op die eerste dag van die ongesuurde brode, wanneer hulle gewoonlik die pasga geslag het, sê sy dissipels vir Hom: Waar wil U hê moet ons gaan klaarmaak, dat U die pasga kan eet?

13. En Hy stuur twee van sy dissipels en sê vir hulle: Gaan na die stad toe; en ’n man wat ’n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom,

14. en waar hy ook mag ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: Die Meester laat weet: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die pasga kan eet?

15. En hy sal julle ’n groot bovertrek wys, in gereedheid gebring. Daar moet julle vir ons klaarmaak.

16. En sy dissipels het gegaan en in die stad gekom en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die pasga toeberei.

17. En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf.

18. En terwyl hulle aan tafel was en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.

19. Toe het hulle begin om bedroef te word en een vir een aan Hom te sê: Is dit miskien Ek? En ’n ander een: Is dit miskien ek?

20. En Hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met My sy hand in die skottel insteek.

Markus 14