45. En toe hy kom, gaan hy dadelik na Hom en sê: Rabbi, Rabbi! en soen Hom.
46. Daarop slaan hulle hul hande aan Hom en gryp Hom.
47. En een van die wat daar gestaan het, het sy swaard uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.
48. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen ’n rower uitgetrek met swaarde en stokke om My gevange te neem?
49. Dag vir dag was Ek by julle in die tempel besig om te leer, en julle het My nie gegryp nie. Maar die Skrifte moes vervul word.
50. Toe het almal Hom verlaat en gevlug.
51. En ’n sekere jongman met ’n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg; en die jongmanne het hom gegryp;
52. maar hy het die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug.
53. EN hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester. En al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes het by hom vergader.
54. En Petrus het Hom van ver af gevolg tot binne-in die paleis van die hoëpriester, en het saam met die dienaars gesit en hom by die vuur warm gemaak.
55. En die owerpriesters en die hele Raad het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en hulle het niks gevind nie;
56. want baie het vals teen Hom getuig en die getuienisse was nie eenders nie.
57. En sommige het opgestaan en vals teen Hom getuig en gesê:
58. Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ’n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie.
59. En selfs so was hulle getuienis nie eenders nie.
60. Toe staan die hoëpriester in hul midde op en vra Jesus en sê: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U?