Markus 12:34-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

34. Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.

35. EN terwyl Jesus in die tempel leer, antwoord Hy en sê: Hoe sê die skrifgeleerdes dat die Christus die seun van Dawid is?

36. Want Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete.

37. Dawid self noem Hom dus Here; waarvandaan is Hy dan sy seun? En die groot menigte het graag na Hom geluister.

38. EN Hy het aan hulle in sy onderrig gesê: Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van begroetinge op die markte hou

39. en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye —

40. hulle wat die huise van die weduwees opeet en vir die skyn lang gebede doen. Hulle sal ’n swaarder oordeel ontvang.

41. EN Jesus het reg voor die skatkis gaan sit en gekyk hoe die skare geld in die skatkis gooi. En baie rykes het veel ingegooi.

42. En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is ’n oortjie.

43. Toe roep Hy sy dissipels na Hom en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het.

Markus 12