Lukas 9:26-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.

27. Ek sê vir julle met waarheid: Daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.

28. EN omtrent agt dae ná hierdie woorde het Hy Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en op die berg geklim om te bid.

29. En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy aangesig anders geword en sy klere skitterend wit.

30. En daar was twee manne in gesprek met Hom; dit was Moses en Elía.

31. Hulle het in heerlikheid verskyn en van sy uitgang gespreek wat Hy in Jerusalem sou volbring.

32. En Petrus en die wat saam met hom was, was deur die slaap oorweldig. Maar toe hulle wakker word, sien hulle sy heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan.

33. En toe hulle van Hom weggaan, sê Petrus vir Jesus: Meester, dit is goed dat ons hier is; laat ons dan drie hutte maak, een vir U en vir Moses een en een vir Elía — hy het nie geweet wat hy sê nie.

34. Maar toe hy dit sê, kom daar ’n wolk en oordek hulle, en hulle het bang geword toe daardie manne in die wolk ingaan.

35. En daar kom ’n stem uit die wolk wat sê: Dit is my geliefde Seun; luister na Hom!

36. En nadat die stem gekom het, was Jesus daar alleen. En hulle het geswyg en aan niemand in daardie dae iets vertel van wat hulle gesien het nie.

37. EN op die volgende dag toe hulle van die berg afklim, kom ’n groot skare Hom tegemoet.

38. En daar roep ’n man uit die skare en sê: Meester, ek bid U, kyk tog na my seun, want hy is my enigste.

39. En kyk, ’n gees gryp hom, en meteens skreeu hy, en hy laat hom stuiptrekkings kry met skuim in die mond en gaan amper nie van hom weg nie en verniel hom.

40. En ek het u dissipels gebid om hom uit te drywe, en hulle kon nie.

41. Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.

42. En toe hy nog aankom, skeur die duiwel hom en laat hom stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onreine gees bestraf en die seun genees en hom aan sy vader teruggegee.

Lukas 9