Lukas 19:38-48 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

38. terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!

39. En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u dissipels!

40. En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.

41. En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween

42. en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.

43. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ’n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit.

44. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.

45. EN toe Hy in die tempel ingegaan het, begin Hy die wat daarin verkoop en koop, uit te jaag.

46. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis is ’n huis van gebed. Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak.

47. En elke dag was Hy besig om in die tempel te leer; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die vernaamstes van die volk het probeer om Hom om te bring;

48. en hulle het niks gevind wat hulle kon doen nie, want die hele volk het Hom aangehang en na Hom geluister.

Lukas 19