21. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.
22. En Hy sê vir sy dissipels: Daar sal dae kom wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie.
23. En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie agterna loop nie.
24. Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees.
25. Maar eers moet Hy baie ly en deur hierdie geslag verwerp word.
26. En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens:
27. hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.
28. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou.
29. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig.
30. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.
31. In daardie dag moet hy wat op die dak sal wees, terwyl sy huisraad in die huis is, nie afkom om dit weg te neem nie; en so ook moet hy wat op die land sal wees, nie omdraai na wat agter is nie.
32. Dink aan die vrou van Lot!
33. Elkeen wat probeer om sy lewe te red, sal dit verloor; en elkeen wat dit verloor, sal dit behou.
34. Ek sê vir julle: In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word.
35. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word.