15. En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ’n gruwel voor God.
16. Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin.
17. Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.
18. Elkeen wat van sy vrou skei en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.
19. EN daar was ’n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe.
20. En daar was ’n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.
21. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.
22. En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.
23. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.
24. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.