Lukas 16:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN Hy het ook aan sy dissipels gesê: Daar was ’n ryk man wat ’n bestuurder gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis.

2. En hy het hom geroep en vir hom gesê: Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie.

3. Toe sê die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my.

4. Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is, hulle my in hulle huise kan ontvang.

5. Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en sê vir die eerste: Hoeveel skuld jy aan my heer?

6. En hy antwoord: Honderd vat olie. En hy sê vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.

7. Daarna sê hy vir ’n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord: Honderd mud koring. Toe sê hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig.

8. En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het; want die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig.

9. En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.

Lukas 16