3. En Jesus het gespreek en aan die wetgeleerdes en Fariseërs gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat te genees?
4. Maar hulle het stilgebly. Toe neem Hy hom en maak hom gesond en laat hom gaan.
5. En Hy antwoord en sê vir hulle: Wie van julle se esel of os sal in ’n put val, wat dit nie dadelik op die sabbatdag sal uittrek nie?
6. En hulle kon Hom daarop nie antwoord nie.
7. EN toe Hy merk hoe hulle die voorste plekke uitkies, vertel Hy aan die genooides ’n gelykenis en sê vir hulle:
8. Wanneer jy deur iemand na ’n bruilof uitgenooi is, moenie die voorste plek inneem nie, ingeval daar nie miskien een wat waardiger is as jy deur hom uitgenooi is nie,
9. en hy wat jou en hom genooi het, kom en vir jou sê: Maak plek vir hierdie man. En dan sal jy met skaamte die agterste plek begin inneem.
10. Maar wanneer jy genooi is, gaan en neem die agterste plek in; sodat wanneer hy kom wat jou genooi het, hy vir jou kan sê: Vriend, gaan hoër op! Dan sal jy eer hê voor die wat saam met jou aan tafel is.
11. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.