39. Maar die Here sê vir hom: Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid.
40. Onverstandiges, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie die binnekant ook gemaak nie?
41. Maar gee wat daarin is, as aalmoes, en dan is alles vir julle rein.
42. Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van die kruisement en die wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.
43. Wee julle, Fariseërs, want julle hou van die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte.
44. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is soos grafte wat onherkenbaar is, en die mense wat daaroor loop, weet dit nie.
45. Toe antwoord een van die wetgeleerdes en sê vir Hom: Meester, as U só spreek, beledig U ons ook.
46. En Hy sê: Wee julle ook, wetgeleerdes, want julle lê laste op die mense wat swaar is om te dra, en self roer julle die laste nie met een van julle vingers aan nie.
47. Wee julle, want julle bou die grafte van die profete, en julle vaders het hulle gedood.
48. Julle gee dus getuienis vir die werke van julle vaders en het saam welbehae daarin, want hulle het hul gedood en julle bou hul grafte.
49. Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van dié sal hulle doodmaak en vervolg,
50. sodat van hierdie geslag afgeëis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af,
51. van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek sê vir julle, dit sal afgeëis word van hierdie geslag.
52. Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder.
53. En toe Hy dit aan hulle sê, begin die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom skerp in die oog te hou en Hom uit te vra oor baie dinge,
54. om vir Hom ’n strik te stel en te probeer om iets uit sy mond op te vang, sodat hulle Hom kon beskuldig.