2. En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
3. gee ons elke dag ons daaglikse brood;
4. en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.
5. EN Hy het vir hulle gesê: Wie van julle sal ’n vriend hê en sal middernag na hom gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode,
6. want ’n vriend van my het van ’n reis by my aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie —
7. en dié van binnekant sal antwoord en sê: Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie.
8. Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy nodig het.