Levítikus 26:30-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

30. En Ek sal julle hoogtes verwoes en julle sonpilare verdelg en julle lyke op die lyke van julle drekgode gooi; en my siel sal ’n afsku van julle hê.

31. En Ek sal julle stede puinhope maak en julle heiligdomme verwoes en julle lieflike geur nie ruik nie.

32. Ja, Ek self sal die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan.

33. En Ek sal julle onder die volke verstrooi en ’n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ’n wildernis en julle stede puinhope word.

34. Dan sal die land vir sy sabbatte vergoeding kry, al die dae van sy verwoesting, terwyl julle in die land van julle vyande is; dan sal die land rus en vir sy sabbatte vergoeding gee.

35. Al die dae van sy verwoesting sal dit rus — die rus wat dit nie gehad het in julle sabbatte toe julle daarin gewoon het nie.

36. En wat aangaan diegene wat onder julle oorgebly het — Ek sal in hulle hart ’n vreesagtigheid bring in die lande van hulle vyande, sodat die geruis van ’n verwaaide blaar hulle op die loop sal ja; en hulle sal vlug, soos ’n mens vir ’n swaard vlug en val sonder dat iemand agtervolg.

37. En hulle sal struikel die een oor die ander soos vir die swaard, alhoewel niemand agtervolg nie; en julle sal voor julle vyande nie kan standhou nie.

38. Maar julle sal omkom onder die nasies, en die land van julle vyande sal julle verteer.

39. En die wat onder julle oorgebly het, sal oor hulle ongeregtigheid wegteer in die lande van julle vyande, ja, ook oor die ongeregtighede van hulle vaders saam met hulle wegteer.

40. Dan sal hulle hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders deurdat hulle ontrou teen my gehandel het; en ook dat hulle hul teen My versit het,

41. sodat Ék My ook teen hulle versit het en hulle in die land van hulle vyande moes bring; of, as hulle onbesnede hart hom dan verneder en hulle dan boet vir hul ongeregtigheid,

42. sal Ek dink aan my verbond met Jakob; en ook aan my verbond met Isak en ook aan my verbond met Abraham sal Ek dink, en aan die land sal Ek dink.

Levítikus 26