Levítikus 26:3-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen,

4. sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee.

5. En die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiwe-oes, en die druiwe-oes sal aanhou tot die saaityd, en julle sal jul brood volop eet en veilig in julle land woon.

6. Ook sal Ek vrede gee in die land, sodat julle sal lê en rus sonder dat iemand julle skrikmaak; en Ek sal die wilde diere uit die land laat verdwyn, en geen swaard sal deur julle land trek nie.

7. En julle sal jul vyande agtervolg, en hulle sal voor julle val deur die swaard.

8. Vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle sal tienduisend agtervolg; en julle vyande sal voor julle val deur die swaard.

9. En Ek sal My na julle wend en julle vrugbaar maak en julle vermenigvuldig; en my verbond sal Ek met julle bevestig.

10. Julle sal ou koring van vorige jare eet en die oue laat plek maak vir die nuwe.

11. En Ek sal my tabernakel onder julle oprig, en my siel sal van julle geen afsku hê nie.

12. En Ek sal in jul midde wandel en vir julle ’n God wees, en júlle sal vir My ’n volk wees.

13. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het, dat julle nie hulle slawe moet wees nie; en Ek het julle jukskeie verbreek en het julle regop laat loop.

14. Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie;

15. en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek —

16. dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet.

17. En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie.

18. En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig.

19. En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper.

Levítikus 26