20. En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie.
21. En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes.
22. En Ek sal die wilde diere van die veld onder julle in stuur, en dié sal julle kinderloos maak en julle vee uitroei en julle verminder, sodat julle paaie verlate sal wees.
23. En as julle hierdeur jul nie deur My laat tugtig nie, maar julle teen My versit,
24. sal Ek My ook teen julle versit en julle ook sewevoudig tref weens julle sondes.
25. En Ek sal ’n swaard oor julle bring wat die wraak van die verbond sal uitoefen; en as julle dan in jul stede terugtrek, sal Ek pes onder julle in stuur, en julle sal in die hand van die vyand oorgegee word.
26. As Ek vir julle die staf van die brood verbreek, sal tien vroue julle brood in een oond bak en julle brood by die gewig teruggee; en julle sal eet, maar nie versadig word nie.
27. As julle ook hierom nie na My luister nie, maar julle teen My versit,
28. sal Ek My in grimmigheid teen julle versit, en Ék sal julle ook sewevoudig tugtig weens julle sondes.
29. En julle sal die vlees van julle seuns eet, en die vlees van julle dogters sal julle eet.
30. En Ek sal julle hoogtes verwoes en julle sonpilare verdelg en julle lyke op die lyke van julle drekgode gooi; en my siel sal ’n afsku van julle hê.
31. En Ek sal julle stede puinhope maak en julle heiligdomme verwoes en julle lieflike geur nie ruik nie.
32. Ja, Ek self sal die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan.
33. En Ek sal julle onder die volke verstrooi en ’n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ’n wildernis en julle stede puinhope word.
34. Dan sal die land vir sy sabbatte vergoeding kry, al die dae van sy verwoesting, terwyl julle in die land van julle vyande is; dan sal die land rus en vir sy sabbatte vergoeding gee.