13. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het, dat julle nie hulle slawe moet wees nie; en Ek het julle jukskeie verbreek en het julle regop laat loop.
14. Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie;
15. en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek —
16. dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet.
17. En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie.
18. En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig.
19. En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper.
20. En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie.
21. En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes.
22. En Ek sal die wilde diere van die veld onder julle in stuur, en dié sal julle kinderloos maak en julle vee uitroei en julle verminder, sodat julle paaie verlate sal wees.
23. En as julle hierdeur jul nie deur My laat tugtig nie, maar julle teen My versit,
24. sal Ek My ook teen julle versit en julle ook sewevoudig tref weens julle sondes.
25. En Ek sal ’n swaard oor julle bring wat die wraak van die verbond sal uitoefen; en as julle dan in jul stede terugtrek, sal Ek pes onder julle in stuur, en julle sal in die hand van die vyand oorgegee word.
26. As Ek vir julle die staf van die brood verbreek, sal tien vroue julle brood in een oond bak en julle brood by die gewig teruggee; en julle sal eet, maar nie versadig word nie.