9. Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, ’n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur julle hele land laat gaan.
10. En julle moet die vyftigste jaar heilig en ’n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ’n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan.
11. ’n Jubeljaar moet dit, die vyftigste jaar, vir julle wees. Julle mag nie saai nie, ook nie afoes wat dan opslaan of die druiwe van die onbesnoeide wingerdstok dan afsny nie.
12. Want dit is ’n jubeljaar, dit moet vir julle heilig wees: van die land af moet julle die opbrings daarvan eet.
13. In hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan.
14. Daarom, as jy iets aan jou naaste verkoop of van jou naaste koop, moet julle mekaar nie verdruk nie;
15. volgens die getal jare ná die jubeljaar moet jy van jou naaste koop; volgens die getal jare dat daar ’n oes is, moet hy dit aan jou verkoop;