Levítikus 13:51-59 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

51. Dan moet hy op die sewende dag die plek bekyk; as die plaag versprei het in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in die vel, vir watter diens die vel ook al verwerk is, dan is die plaag ’n kwaadaardige melaatsheid; so iets is onrein.

52. Daarom moet hy die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag van wol of van linne of enige leervoorwerp waarin die aangetaste plek is, verbrand; want dit is ’n kwaadaardige melaatsheid. Dit moet met vuur verbrand word.

53. Maar as die priester sien dat die plek in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp nie versprei het nie,

54. dan moet die priester beveel dat hulle die voorwerp was waar die plek aan is; en hy moet dit nog ’n keer sewe dae lank opsluit.

55. As die priester dan die aangetaste voorwerp bekyk, nadat dit gewas is, en sien dat die plek nog net so lyk, hoewel die plek nie versprei het nie, dan is dit onrein; jy moet dit met vuur verbrand. Dit is ’n invreting aan die agter- of aan die voorkant.

56. Maar as die priester sien dat die plek, nadat dit gewas is, dof van kleur geword het, dan moet hy dit uit die kledingstuk of uit die vel of uit die skeerdraad of die inslag uitskeur.

57. Maar as dit nog in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp gesien word, dan is dit ’n melaatsheid wat weer uitbreek; jy moet die aangetaste voorwerp met vuur verbrand.

58. Maar die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag of enige leervoorwerp wat jy was — as die plek daaruit verdwyn het, moet dit nog ’n keer gewas word, en dit sal rein wees.

59. Dit is die wet oor die plaag van melaatsheid in ’n kledingstuk van wol of linne of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp, om dit rein of onrein te verklaar.

Levítikus 13