Klaagliedere 1:13-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Mem. Uit die hoogte het Hy vuur gestuur in my gebeente en dit oorweldig, Hy het ’n net voor my voet uitgesprei, Hy het my agteruit laat wyk, Hy het my woes gemaak, die hele dag ellendig.

14. Noen. Die juk van my oortredinge is vasgebind deur sy hand, hulle is saamgevleg, hulle het op my nek gekom, dit het my krag laat struikel. Die Here het my oorgegee in die hande van een teen wie ek geen teëstand kon bied nie.

15. Samek. Die Here het al my magtiges binne-in my verwerp, Hy het teen my ’n feestyd uitgeroep om my jongmanne te verbreek; die Here het die parskuip getrap vir die jonkvrou, die dogter van Juda.

16. Ajin. Daarom ween ek, my oog, my oog loop af in water, want ver van my is die trooster wat my verkwik; my kinders is verbyster, omdat die vyand die oorhand het.

Klaagliedere 1