Josua 8:22-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. Daarop trek dié uit die stad hulle tegemoet, sodat hulle tussen Israel in geraak het, ’n deel duskant en ’n deel anderkant; en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle oor was wat vrygeraak of ontvlug het nie.

23. Maar hulle het die koning van Ai lewendig gevang en hom na Josua gebring.

24. En nadat Israel al die inwoners van Ai in die veld, in die woestyn waar hulle hul agtervolg het, geheel en al van kant gemaak het, en hulle almal tot die laaste een toe deur die skerpte van die swaard geval het, het die hele Israel teruggekom na Ai en dit met die skerpte van die swaard verslaan.

25. Al die gesneuweldes op dié dag, manne sowel as vroue, was twaalf duisend — al die mense van Ai.

26. En Josua het sy hand met die uitgestrekte spies nie teruggetrek voordat hy al die inwoners van Ai met die banvloek getref het nie.

27. Net die vee en die buit van daardie stad het die Israeliete vir hulle buitgemaak, volgens die woord van die Here wat Hy Josua beveel het.

28. Toe het Josua Ai verbrand en daarvan ’n puinhoop gemaak vir ewig, ’n wildernis tot vandag toe.

29. En die koning van Ai het hy aan ’n paal opgehang tot die aand toe; maar teen sonsondergang het Josua bevel gegee, en hulle het sy lyk van die paal afgehaal en dit by die ingang van die stadspoort gegooi en ’n groot hoop klippe op hom gestapel wat vandag nog daar is.

30. TOE het Josua ’n altaar gebou vir die Here, die God van Israel, op die berg Ebal,

31. soos Moses, die kneg van die Here, die kinders van Israel beveel het, soos geskrywe staan in die wetboek van Moses: ’n Altaar van ongekapte klippe waaroor geen yster geswaai is nie; en dáárop het hulle aan die Here brandoffers gebring en dankoffers geslag.

32. En daar het hy ’n afskrif van die wet van Moses op die klippe geskrywe, wat hy geskrywe het voor die oë van die kinders van Israel,

33. terwyl die hele Israel met sy oudstes en die opsigters en sy regters aan weerskante van die ark staan — teenoor die Levitiese priesters, die draers van die verbondsark van die Here — die vreemdeling sowel as die kind van die land: die een helfte daarvan teen die berg Gerísim en die ander helfte daarvan teen die berg Ebal, soos Moses, die kneg van die Here, tevore bevel gegee het om die volk van Israel te seën.

34. En daarna het hy al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vloek, net soos dit geskrywe staan in die wetboek.

Josua 8