Josua 14:7-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Veertig jaar was ek oud toe Moses, die kneg van die Here, my uitgestuur het van Kades-Barnéa af om die land te verken, en ek het hom berig gebring soos dit in my hart was;

8. maar my broers wat saam met my opgetrek het, het die hart van die volk laat versmelt, terwyl ek volgehou het om die Here my God te volg.

9. En dié dag het Moses gesweer en gesê: Waarlik, die land wat jou voet betree het, sal aan jou en aan jou kinders in ewigheid as ’n erfdeel behoort, omdat jy volgehou het om die Here my God te volg.

10. En nou, kyk, die Here het my laat lewe, soos Hy gespreek het, nou al vyf-en-veertig jaar sedert die Here hierdie woord met Moses gespreek het toe Israel in die woestyn getrek het; en kyk nou, ek is vandag vyf-en-tagtig jaar oud;

11. ek is vandag nog so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het; soos my krag toe was, so is my krag nou nog, om te veg en om uit te gaan en in te gaan.

12. Gee my dan nou hierdie bergland waarvan die Here daardie dag gespreek het; want u self het dié dag gehoor dat dáár Enakiete is en groot versterkte stede; miskien sal die Here met my wees, sodat ek hulle kan verdrywe, soos die Here gespreek het.

13. Toe het Josua hom geseën en aan Kaleb, die seun van Jefúnne, Hebron as erfdeel gegee.

14. Daarom het Hebron die erfdeel geword van Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, tot vandag toe, omdat hy volgehou het om die Here, die God van Israel, te volg.

15. En die naam van Hebron was tevore stad van Arba; hy was die grootste man onder die Enakiete. En die land het gerus van oorlog.

Josua 14