12. En al daardie koningstede met al hulle konings het Josua geneem en hulle met die skerpte van die swaard verslaan; hy het hulle met die banvloek getref, soos Moses, die kneg van die Here, beveel het.
13. Net al die stede wat op hulle heuwels gelê het, dié het Israel nie verbrand nie, behalwe Hasor alleen — wat Josua verbrand het.
14. En al die buit van daardie stede en die vee het die kinders van Israel vir hulleself buitgemaak; net al die mense het hulle verslaan met die skerpte van die swaard, totdat hulle dié verdelg het; hulle het niks wat asemhaal, laat oorbly nie.
15. Soos die Here Moses, sy kneg, beveel het, so het Moses aan Josua bevel gegee, en so het Josua gehandel; hy het niks nagelaat van alles wat die Here Moses beveel het nie.
16. So het Josua dan hierdie hele land ingeneem: die Gebergte en die hele Suidland en die hele land Gosen en die Laeveld en die Vlakte en die gebergte van Israel met sy laagte;
17. van die Kaal Berg af, wat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad in die laagte van die Líbanon onderaan die berg Hermon; en al hulle konings het hy gevang en hulle verslaan en hulle gedood.
18. Baie lank het Josua met al hierdie konings oorlog gevoer.
19. Daar was geen stad wat met die kinders van Israel vrede gesluit het nie, behalwe die Hewiete, die inwoners van Gíbeon; alles het hulle met wapengeweld geneem.
20. Want die Here het dit so bestier dat hulle hul hardnekkig voorgeneem het om Israel te bestry, sodat dié hulle met die banvloek sou tref, dat daar vir hulle geen genade sou wees nie; maar dat dié hulle sou verdelg, soos die Here Moses beveel het.
21. En in dié tyd het Josua gekom en die Enakiete uitgeroei, uit die gebergte, uit Hebron, Debir, Anab en uit die hele gebergte van Juda en die hele gebergte van Israel; met hul stede saam het Josua hulle met die banvloek getref.
22. Niemand van die Enakiete het oorgebly in die land van die kinders van Israel nie; net in Gasa, in Gat en in Asdod het hulle oorgebly.
23. So het Josua dan die hele land ingeneem net soos die Here met Moses gespreek het; en Josua het dit as ’n erfdeel aan Israel gegee volgens hulle afdelings, volgens hulle stamme; en die land het gerus van oorlog.