Josua 10:22-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. Daarop sê Josua: Maak oop die ingang van die spelonk en bring hierdie vyf konings uit die spelonk uit na my toe.

23. Hulle het so gedoen en dié vyf konings uit die spelonk na hom gebring: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis, die koning van Eglon.

24. En toe hulle dié konings uitgebring het na Josua, roep Josua al die manne van Israel en sê aan die aanvoerders van die krygsmanne wat met hom saam getrek het: Kom nader, sit julle voete op die nekke van hierdie konings; en hulle het nader gekom en hul voete op hulle nekke gesit.

25. En Josua sê vir hulle: Wees nie bevrees of verskrik nie; wees sterk en vol moed, want so sal die Here met al julle vyande doen teen wie julle sal veg.

26. En daarna het Josua hulle neergeslaan en hulle gedood en hulle aan vyf pale opgehang; en hulle het aan die pale bly hang tot die aand toe.

27. En teen sonsondergang het Josua bevel gegee om hulle van die pale af te haal en in die spelonk te gooi waarin hulle weggekruip het; en hulle het groot klippe voor die ingang van die spelonk gepak, wat vandag nog daar is.

28. Daardie dag het Josua ook Makkéda ingeneem en dit met die skerpte van die swaard verslaan; en sy koning, die stad self en al die siele wat daarin was, het hy met die banvloek getref sonder iemand te laat oorbly wat vrygeraak het; en met die koning van Makkéda het hy gedoen net soos met die koning van Jérigo.

Josua 10