Josua 10:13-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent ’n volle dag.

14. En daar was geen dag soos hierdie een, voor hom en ná hom, dat die Here na die stem van ’n man geluister het nie; want die Here het vir Israel gestry.

15. Daarop het Josua, en die hele Israel met hom saam, na die laer van Gilgal teruggekeer.

16. Maar daardie vyf konings het gevlug en weggekruip in die spelonk by Makkéda.

17. Toe aan Josua geboodskap en gesê is: Die vyf konings is gevind: hulle kruip weg in die spelonk by Makkéda —

18. het Josua gesê: Rol groot klippe teen die ingang van die spelonk en stel manne daarby aan om hulle te bewaak.

19. Maar julle, moenie bly staan nie; jaag julle vyande agterna en sny hulle agterhoede af; laat hulle nie toe om in hul stede in te kom nie, want die Here julle God gee hulle in julle hand.

20. En toe Josua en die kinders van Israel hulle heeltemal verslaan het met ’n baie groot slag totdat hulle vernietig was, en enkele uit hulle vrygeraak en in die versterkte stede ingegaan het,

21. het al die manskappe by die laer, by Josua behoue teruggekom in Makkéda; niemand het teen die kinders van Israel sy tong verroer nie.

22. Daarop sê Josua: Maak oop die ingang van die spelonk en bring hierdie vyf konings uit die spelonk uit na my toe.

23. Hulle het so gedoen en dié vyf konings uit die spelonk na hom gebring: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis, die koning van Eglon.

24. En toe hulle dié konings uitgebring het na Josua, roep Josua al die manne van Israel en sê aan die aanvoerders van die krygsmanne wat met hom saam getrek het: Kom nader, sit julle voete op die nekke van hierdie konings; en hulle het nader gekom en hul voete op hulle nekke gesit.

25. En Josua sê vir hulle: Wees nie bevrees of verskrik nie; wees sterk en vol moed, want so sal die Here met al julle vyande doen teen wie julle sal veg.

26. En daarna het Josua hulle neergeslaan en hulle gedood en hulle aan vyf pale opgehang; en hulle het aan die pale bly hang tot die aand toe.

Josua 10