41. Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het;
42. en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.
43. En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n groot stem geroep: Lasarus, kom uit!
44. En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ’n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.
45. EN baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.
46. Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het.
47. En die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen? — want hierdie man doen baie tekens.
48. As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem.
49. En een van hulle, Kájafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie
50. en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.
51. En dit het hy nie uit homself gesê nie; maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterwe.
52. En nie alleen vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot ’n eenheid saam te voeg.
53. Van dié dag af het hulle toe saam beraadslaag om Hom om die lewe te bring.