5. Hoor die woord van die Here, julle wat vir sy woord bewe! Julle broers, julle haters wat julle verstoot om my Naam ontwil, sê: Laat die Here heerlik word, dat ons julle vreugde kan aanskou! Maar hulle sal beskaamd staan!
6. Hoor — ’n rumoer uit die stad! Hoor — uit die tempel! Hoor — dit is die Here wat sy vyande hulle dade vergeld!
7. Voordat sy weë gekry het, het sy gebaar; voordat smart oor haar gekom het, is sy van ’n seuntjie verlos.
8. Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Word ’n land op een enkele dag gebore? Of word ’n nasie met een slag gebaar? Want Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar.
9. Sou Ek naby die geboorte bring en nie laat baar nie? sê die Here. Of sou Ek wat laat baar, self toesluit? sê jou God.