Jesaja 59:10-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie, tas ons rond; ons struikel op die middag soos in die skemeraand; ons is onder die gesondes soos dooie mense.

11. Ons brom almal soos bere, en soos duiwe kir ons aanhoudend; ons wag op reg, maar dit is nie daar nie; op heil — dit bly ver van ons.

12. Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede — ons ken hulle:

13. die afval en verloëning van die Here en afwyking van agter onse God; die uitspreek van verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal uit die hart.

14. So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie.

15. Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder. Toe het die Here dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie.

16. En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie; daarom het sy arm Hom gehelp en sy geregtigheid het Hom ondersteun.

17. En Hy het geregtigheid aangetrek soos ’n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in ’n mantel.

18. Volgens die dade, daarmee ooreenkomstig sal Hy vergelde: grimmigheid aan sy teëstanders, vergelding aan sy vyande; aan die eilande sal Hy die loon vergelde.

19. En hulle sal die Naam van die Here vrees van die westekant af, en sy heerlikheid van die opgang van die son af; want Hy sal kom soos ’n saamgeperste stroom wat die asem van die Here aandrywe.

20. Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die Here.

21. Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die Here: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die Here, van nou af tot in ewigheid nie.

Jesaja 59