9. Ontwaak, ontwaak, beklee u met sterkte, arm van die Here! Ontwaak soos in die dae van die voortyd, onder die geslagte van lank gelede. Is dit nie u wat Rahab neergekap, wat die seemonster deurboor het nie?
10. Is dit nie u wat die see, die waters van die groot wêreldvloed drooggemaak het nie, wat van die dieptes van die see ’n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes nie?
11. So sal dan die losgekooptes van die Here teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg.
12. Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? —
13. dat jy vergeet die Here wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker?
14. Die in boeie gekromde word gou losgelaat en sal nie sterwend in die kuil neerdaal nie, en sy brood sal nie ontbreek nie.
15. Maar Ek is die Here jou God wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis; Here van die leërskare is sy Naam!
16. En Ek het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou verberg; om die hemel te plant en die aarde te grond en aan Sion te sê: My volk is jy!
17. ONTWAAK, ontwaak, staan op, Jerusalem, jy wat uit die hand van die Here die beker van sy grimmigheid gedrink het; die kelk van bedwelming het jy uitgedrink, uitgesuig.
18. Nie een van al die seuns wat sy gebaar het, het haar gelei nie; en nie een van al die seuns wat sy grootgemaak het, het haar aan die hand gegryp nie.
19. Hierdie twee dinge het jou oorgekom — wie het medelyde met jou? — verwoesting en verbreking, hongersnood en swaard. Hoe sou ek jou kan troos?
20. Jou kinders het onmagtig gelê by al die straathoeke soos ’n eland in ’n vangkuil, vol van die grimmigheid van die Here, van die dreiging van jou God.
21. Daarom, hoor tog dit, ellendige, en jy wat dronk is, maar nie van wyn nie!