Jesaja 51:5-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. My oorwinning is naby, my heil trek uit en my arms sal die volke oordeel; op My sal die eilande wag, en op my arm sal hulle hoop.

6. Slaan julle oë op na die hemel en aanskou die aarde daaronder; want die hemel sal soos rook verdwyn en die aarde soos ’n kleed verslyt en sy bewoners soos muskiete sterwe; maar my heil sal vir ewig bestaan en my geregtigheid nie verbreek word nie.

7. Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is! Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie;

8. want die mot sal hulle opeet soos ’n kleed, en die wurm sal hulle verteer soos wol; maar my geregtigheid sal vir ewig bestaan en my heil van geslag tot geslag.

9. Ontwaak, ontwaak, beklee u met sterkte, arm van die Here! Ontwaak soos in die dae van die voortyd, onder die geslagte van lank gelede. Is dit nie u wat Rahab neergekap, wat die seemonster deurboor het nie?

10. Is dit nie u wat die see, die waters van die groot wêreldvloed drooggemaak het nie, wat van die dieptes van die see ’n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes nie?

11. So sal dan die losgekooptes van die Here teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg.

12. Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? —

13. dat jy vergeet die Here wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker?

Jesaja 51