13. Jubel, o hemele, en juig, aarde; en berge breek uit in gejubel! Want die Here het sy volk getroos en ontferm Hom oor sy ellendiges.
14. MAAR Sion sê: Die Here het my verlaat, en die Here het my vergeet!
15. Kan ’n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!
16. Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.
17. Jou seuns kom gou, maar jou verwoesters en jou vernielers sal van jou af wegtrek.
18. Slaan jou oë rondom op en kyk: hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe! So waar as Ek leef, spreek die Here, sekerlik sal jy hulle almal aansit soos ’n versiersel, hulle ombind soos ’n bruid.
19. Want jou puinhope en jou verwoeste plekke en jou verwoeste land — sekerlik, nou sal jy te nou wees vir die inwoners, en die wat jou verslind het, is ver weg!
20. Nog sal die kinders waarvan jy beroof is, voor jou ore sê: Die plek is te nou vir my; maak vir my plek, dat ek kan woon!
21. Dan sal jy in jou hart sê: Wie het vir my hierdie kinders gebaar, aangesien ek kinderloos en onvrugbaar was, verban en verstote? En wie het hulle grootgemaak? Kyk, ek het toe alleen oorgebly; hierdie kinders — waar was húlle?
22. So sê die Here Here: Kyk, Ek sal my hand ophef na die nasies en my banier opsteek na die volke; dan sal hulle jou seuns aan die boesem bring, en jou dogters sal op die skouer gedra word;
23. en konings sal jou oppassers wees, hulle vorstinne jou pleegmoeders; hulle sal voor jou neerbuig met die aangesig na die aarde toe en die stof van jou voete lek; en jy sal weet dat Ek die Here is, dat hulle nie beskaamd staan wat My verwag nie.
24. Sal van ’n held die buit afgeneem word? Of sal die gevangenes van ’n regverdige ontvlug?
25. Waarlik, so sê die Here: Ja, die gevangenes van die held sal afgeneem word, en die buit van die tiran sal ontvlug; en jou bestryder sal Ék bestry en jou kinders sal Ek verlos.
26. En Ek sal jou verdrukkers hulle eie vlees laat eet, en van hulle eie bloed sal hulle dronk word soos van mos. Dan sal alle vlees gewaar word dat Ek, die Here, jou Heiland is, en jou Verlosser die Magtige van Jakob.