17. En van wat oor is, maak hy ’n god, sy gesnede beeld; hy kniel daarvoor neer en buig hom en aanbid dit en sê: Red my, want u is my god!
18. Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie;
19. en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie: Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan ’n gruwel maak? Sal ek neerkniel voor ’n stuk hout?
20. Hy wat hom besig hou met as, ’n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?
21. Dink aan hierdie dinge, o Jakob en Israel! Want jy is my kneg; Ek het jou geformeer; jy is my kneg, Israel! Jy sal deur My nie vergeet word nie.
22. Ek delg jou oortredinge uit soos ’n newel en jou sondes soos ’n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos.
23. Jubel, o hemele, want die Here het dit gedoen. Juig, dieptes van die aarde! Breek uit in gejubel, o berge, bosse en al die bome daarin! Want die Here het Jakob verlos, en Hy sal Homself verheerlik aan Israel.
24. SO sê die Here, jou Verlosser, en Hy wat jou geformeer het van die moederskoot af: Ek is die Here wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek alleen, en wat die aarde uitsprei — wie was met My? —
25. wat die tekens van die leuenprofete vernietig en die waarsêers tot dwase maak; wat die wyse agteruit laat wyk en hulle kennis domheid maak;
26. wat die woord van sy kneg vervul en die voorsegging van sy boodskappers volbring; wat van Jerusalem sê: Dit moet bewoon word; en van die stede van Juda: Hulle moet herbou word, en Ek sal sy puinhope oprig;
27. wat vir die diepte sê: Verdroog! en jou riviere sal Ek laat verdroog;
28. wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word.