Jesaja 42:10-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af — julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan.

11. Laat die woestyn en sy stede uitroep, die dorpe waar Kedar woon! Laat die rotsbewoners jubel, van die top van die berge af skreeu!

12. Laat hulle aan die Here die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!

13. Die Here sal uittrek soos ’n held; Hy sal die ywer opwek soos ’n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar.

14. Ek het baie lank geswyg, My stil gehou, My bedwing. Ek sal uitskreeu soos een wat baar, Ek sal hard asemhaal en hyg tegelykertyd.

15. Ek sal berge en heuwels woes maak en al hulle plante laat verdroog; en Ek sal riviere tot eilande maak en waterplasse laat opdroog.

16. En Ek sal blindes lei op ’n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie.

17. Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is ons gode — dié sal agteruitwyk, diep beskaamd staan.

18. HOOR, julle dowes, en kyk, julle blindes, om te kan sien.

19. Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die Here?

20. Jy het wel baie dinge gesien, maar daar geen ag op gegee nie; die ore oop gehad, maar jy hoor nie.

21. Dit het die Here behaag ter wille van sy geregtigheid om die onderwysing groot en heerlik te maak.

22. En tog is dit ’n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal gebonde in kerkers, verborge in gevangenisse; hulle het ’n buit geword sonder dat iemand red, ’n plundering sonder dat iemand sê: Gee terug!

23. Wie onder julle luister na hierdie dinge? Wie merk op, hoor dit ook vir die toekoms?

24. Wie het Jakob oorgegee as ’n plundering en Israel aan die berowers? Is dit nie die Here teen wie ons gesondig het nie? En hulle wou in sy weë nie wandel nie en het na sy wet nie geluister nie.

25. Daarom het Hy oor hulle uitgestort die gloed van sy toorn en die geweld van die oorlog; en dit het hulle rondom aan die brand gesteek, maar hulle het dit nie bemerk nie; en dit het hulle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie.

Jesaja 42