4. Toe het die woord van die Here tot Jesaja gekom en gesê:
5. Gaan sê vir Hiskía: So spreek die Here, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, jou trane gesien; kyk, Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg,
6. en Ek sal jou uit die hand van die koning van Assirië red en ook hierdie stad; en Ek sal hierdie stad beskut.
7. En dit sal vir jou die teken wees van die kant van die Here, dat die Here hierdie woord wat Hy gespreek het, sal volbring:
8. Kyk, Ek sal die skaduwee op die grade wat dit gedaal het deur die son op die grade van Agas se sonnewyser, laat teruggaan, tien grade agteruit. En die son het tien grade teruggegaan op die grade wat dit gedaal het.
9. GESKRIF van Hiskía, die koning van Juda, toe hy siek was en van sy siekte gesond geword het.
10. Ek het gesê: In die bloei van my dae moet ek heengaan in die poorte van die doderyk; ek word beroof van my orige jare.
11. Ek het gesê: Ek sal die Here nie sien nie, die Here, in die land van die lewendes; ek sal die mense nie meer aanskou onder die inwoners van die wêreld nie.
12. My woning is opgebreek en van my af weggevoer soos ’n herderstent; ek het my lewe opgerol soos ’n wewer sy weefsel; Hy sny my van die wewersbalk af; van dag tot nag gee U my prys.
13. Bring ek myself tot bedaring tot die môre — soos ’n leeu só verbreek Hy al my beendere; van dag tot nag gee U my prys.