Jesaja 14:9-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan.

10. Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword.

11. Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as ’n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking.

12. Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!

13. En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde.

14. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!

15. Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!

16. Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het?

17. Die wêreld soos ’n woestyn gemaak en sy stede verwoes het, wat sy gevangenes nie losgelaat het huis toe nie?

18. Al die konings van die nasies, hulle almal rus met eer, elkeen in sy huis;

19. maar jý is gewerp, ver van jou graf, soos ’n afskuwelike uitspruitsel, oordek met die wat verslaan is, wat deurboor is met die swaard, wat neerdaal na die klippe van die grafkuil soos vertrapte aas.

Jesaja 14