1. WANT die Here sal Hom oor Jakob ontferm, en Hy sal Israel nog verkies en hulle in hul land laat vestig; en die vreemdeling sal hom by hulle voeg, en hulle sal hul aansluit by die huis van Jakob.
2. En die volke sal hulle neem en op hul woonplek bring; en die huis van Israel sal hulle in die land van die Here as besitting verwerwe, as slawe en slavinne; en hulle sal dié gevange hou wat hulle as gevangenes weggevoer het, en oor hulle drywers heers.
3. En op die dag as die Here jou rus gee van jou smart en van jou onrus en van die harde diensbaarheid waarmee hulle jou laat dien het,
4. dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: Hoe het die drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking!
5. Die Here het die stok van die goddelose verbreek, die staf van die heersers,
6. wat die volke verwoes het in grimmigheid met slaan sonder ophou, wat in toorn oor die nasies geheers het met ’n agtervolging sonder verskoning.
7. Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in jubel.
8. Ook is die sipresse bly oor jou, die seders van die Líbanon, en hulle sê: Vandat jy daar lê, klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie.
9. Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan.