Jesaja 1:14-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My ’n oorlas. Ek is moeg om dit te dra.

15. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed.

16. Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen,

17. leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.

18. Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.

19. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.

20. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die Here het dit gespreek.

21. Ag, hoe het die getroue vesting ’n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag — en nou moordenaars!

22. Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water.

Jesaja 1