20. Daarom, so sê die Here Here: Kyk, my toorn en my grimmigheid sal uitgestort word oor hierdie plek, oor die mense en oor die diere en oor die bome van die veld en oor die vrugte van die land; en dit sal brand en nie uitgeblus word nie.
21. So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Voeg julle brandoffers by julle slagoffers en eet vleis.
22. Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met brandoffer of slagoffer nie.
23. Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan.
24. Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar gewandel in wat hulle in die verharding van hul bose hart beraadslaag het, en hulle het agteruitgegaan en nie vooruit nie.
25. Van die dag af dat julle vaders uit Egipteland uitgetrek het tot vandag toe het Ek na julle al my knegte, die profete, gestuur, daagliks, vroeg en laat;
26. maar hulle het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard; hulle het dit erger gemaak as hul vaders.
27. Ook moet jy al hierdie woorde aan hulle meedeel, maar hulle sal na jou nie luister nie; en jy moet na hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie.
28. Sê dan vir hulle: Dit is die nasie wat na die stem van die Here hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie; die opregtheid het verdwyn en is uitgeroei uit hulle mond.
29. Skeer jou mooi hare af, o Jerusalem, en gooi dit weg, en hef op die kaal heuwels ’n klaaglied aan; want die Here het die geslag van sy grimmigheid verwerp en verstoot.
30. Want die kinders van Juda het gedoen wat verkeerd is in my oë, spreek die Here. Hulle het hul verfoeisels gesit in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om dit te verontreinig.
31. En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand — iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie.
32. Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie.
33. En die lyke van hierdie volk sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak.
34. En Ek sal uit die stede van Juda en uit die strate van Jerusalem laat ophou die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid; want die land sal ’n puinhoop word.