16. Roei uit Babel uit die saaier en die wat die sekel hanteer in die oestyd; laat hulle vanweë die verdrukkende swaard elkeen na sy volk omdraai en elkeen na sy land vlug!
17. Israel is ’n rondgejaagde skaap wat die leeus weggedrywe het; eers het die koning van Assur hom opgeëet, en nou ten laaste het Nebukadrésar, die koning van Babel, sy gebeente afgeknaag.
18. Daarom, so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek doen besoeking oor die koning van Babel en oor sy land, soos Ek besoeking gedoen het oor die koning van Assur.
19. En Ek sal Israel na sy weiveld terugbring, en hy sal wei op Karmel en in Basan; en sy siel sal op die gebergte van Efraim en in Gílead versadig word.
20. In dié dae en in dié tyd, spreek die Here, sal die ongeregtigheid van Israel gesoek word, maar dit sal daar nie wees nie; en die sondes van Juda, maar hulle sal nie gevind word nie; want Ek sal vergifnis skenk aan diegene wat Ek laat oorbly.
21. Teen die land Meratáim, trek daarteen op en teen die inwoners van Pekod! Verwoes en tref met die banvloek agter hulle, spreek die Here, en doen net soos Ek jou beveel het.
22. Daar is oorlogsgeskreeu in die land en ’n groot verbreking.
23. Hoe is die hamer van die hele aarde afgekap en verbreek! Hoe het Babel geword ’n voorwerp van verbasing onder die nasies!
24. Ek het vir jou ’n strik gespan, en jy is ook gevang, o Babel, sonder dat jy dit geweet het; jy is betrap en ook gegryp, omdat jy jou teen die Here in die stryd begeef het.
25. Die Here het sy skatkamer oopgemaak en die werktuie van sy grimmigheid uitgebring; want ’n werk is dit wat die Here Here van die leërskare te doen het in die land van die Chaldeërs.
26. Kom aan teen hom van alle kante, maak oop sy voorraadskure, stapel hom op soos koringmiede, en tref hom met die banvloek! Hy moet geen oorblyfsel hê nie.
27. Slaan dood al sy jong stiere, laat hulle afgaan om geslag te word. Wee hulle, want hulle dag het gekom, die tyd van hulle besoeking.
28. Hoor! Vlugtelinge en mense wat vrygeraak het uit die land van Babel, om in Sion te verkondig die wraak van die Here onse God, die wraak van sy tempel.
29. Roep teen Babel skutters op, almal wat die boog span; slaan laer op rondom teen hom, laat daar geen ontkoming wees nie! Vergeld hom na sy werk, doen met hom net soos hy gedoen het, want hy was vermetel teen die Here, teen die Heilige van Israel.
30. Daarom sal sy jongmanne val op sy pleine en al sy krygsmanne in dié dag omkom, spreek die Here.