18. Kom af uit jou heerlikheid, en sit in die dorsland, o inwoner, dogter van Dibon! Want die verwoester van Moab het teen jou opgetrek, hy het jou forte verwoes.
19. Gaan staan op die pad, en kyk uit, o inwoner van Ároër! Vra vir hom wat vlug en vir haar wat ontkom; sê: Wat het gebeur?
20. Moab staan beskaamd, want hy is verslae. Huil en skreeu, verkondig dit by die Arnon dat Moab verwoes is!
21. Ja, ’n oordeel het gekom oor die land van die gelykte, oor Holon en oor Jahas en oor Mefáät,
22. en oor Dibon en oor Nebo en oor Bet-Diblatáim,
23. en oor Kirjatáim en oor Bet-Gamul en oor Bet-Meon,
24. en oor Kérijot en oor Bosra, ja, oor al die stede van die land Moab, die wat ver en die wat naby is.
25. Die horing van Moab is afgekap en sy arm is verbreek, spreek die Here.
26. Maak hom dronk, omdat hy hom groot gehou het teen die Here, sodat Moab neerslaan in sy uitbraaksel en hy self ook ’n belagging word.
27. Want was Israel vir jou nie ’n bespotting nie? Of is hy onder die diewe betrap, dat jy die hoof geskud het so dikwels as jy van hom gespreek het?
28. Verlaat die stede en gaan woon in die rots, inwoners van Moab! En word soos ’n duif wat sy nes maak oorkant die opening van die afgrond.
29. Ons het van die trotsheid van Moab gehoor — hy is baie trots! — van sy hoogheid en sy trotsheid en sy hoogmoed en die verheffing van sy hart.