Jeremia 44:8-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. deurdat julle My terg met die werke van julle hande, om vir ander gode rook te laat opgaan in Egipteland waar julle gekom het om as vreemdelinge te vertoef, sodat julle julself uitroei en ’n voorwerp van vervloeking en van smaad onder al die nasies van die aarde word?

9. Het julle vergeet die booshede van julle vaders en die booshede van die konings van Juda en die booshede van hulle vroue en julle eie booshede en die booshede van julle vroue wat hulle bedryf het in die land Juda en op die strate van Jerusalem?

10. Hulle is tot vandag toe nie verbrysel van hart nie, en hulle was nie bevrees en het nie gewandel in my wet en in my insettinge wat Ek julle en jul vaders voorgehou het nie.

11. Daarom, so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek rig my aangesig teen julle ten kwade en om die hele Juda uit te roei.

12. En Ek sal die oorblyfsel van Juda wegneem, wat hulle aangesig gerig het om na Egipteland te trek, om daar as vreemdelinge te vertoef; en hulle sal almal in Egipteland omkom. Deur die swaard sal hulle val, deur die hongersnood sal hulle verteer word, groot sowel as klein; deur die swaard en die hongersnood sal hulle sterwe; en hulle sal ’n voorwerp van verwensing, van verbasing en van vervloeking en smaad word.

13. En Ek sal besoeking doen oor die wat in Egipteland woon, soos Ek besoeking gedoen het oor Jerusalem deur die swaard, die hongersnood en die pes;

14. sodat daar geeneen sal wees wat ontvlug of vryraak vir die oorblyfsel van Juda wat in Egipteland gekom het om daar as vreemdelinge te vertoef nie, dat hulle kan teruggaan in die land Juda waar hulle siel na verlang om terug te gaan, om daar te woon; want hulle sal nie teruggaan behalwe enkele vlugtelinge nie.

15. En al die manne wat geweet het dat hulle vroue vir ander gode rook laat opgaan, en al die vroue wat daar staan, ’n groot menigte, en die hele volk wat in Egipteland, in Patros gewoon het, het Jeremia geantwoord en gesê:

16. Aangaande die woord wat u ons in die Naam van die Here verkondig het — ons sal na u nie luister nie.

17. Maar ons sal stellig alles doen wat uit ons mond uitgegaan het — om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet soos ons gedoen het, ons en ons vaders, ons konings en ons vorste, in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem; toe is ons met brood versadig en was gelukkig, en ons het geen onheil gesien nie.

18. Maar vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad en het ons deur die swaard en die hongersnood omgekom.

19. En as ons vir die hemelkoningin rook laat opgaan en vir haar drankoffers uitgiet — is dit dan sonder ons mans dat ons vir haar koeke maak om haar af te beeld en drankoffers vir haar uitgiet?

20. Toe het Jeremia gespreek met die hele volk, met die manne en die vroue en die hele volk wat hom antwoord gegee het, en gesê:

21. Aan die offerrook wat julle laat opgaan het in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, julle en julle vaders, julle konings en julle vorste en die volk van die land — het die Here daaraan nie gedink nie en het dit nie in sy hart opgekom nie? —

Jeremia 44