25. So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel, en sê: Julle en julle vroue, julle het dan met julle mond gespreek en dit met julle hande in vervulling laat gaan, terwyl julle sê: Ons sal ons geloftes wat ons gedoen het, stellig hou om rook te laat opgaan vir die hemelkoningin en vir haar drankoffers uit te giet — bevestig dan nou maar julle geloftes, ja, hou nou maar julle geloftes!
26. Daarom, hoor die woord van die Here, o hele Juda wat in Egipteland woon! Kyk, Ek sweer by my grote Naam, sê die Here: Nooit sal my Naam meer aangeroep word deur die mond van enige man van Juda in die hele Egipteland nie, met die woorde: So waar as die Here Here leef!
27. Kyk, Ek is wakker oor hulle ten kwade en nie ten goede nie; en al die manne van Juda wat in Egipteland is, sal deur die swaard en die hongersnood omkom, totdat dit met hulle gedaan is.
28. Maar die wat van die swaard vryraak, sal uit Egipteland terugkom in die land Juda, min in getal; so sal dan die hele oorblyfsel van Juda wat in Egipteland gekom het om daar as vreemdelinge te vertoef, weet wie se woord sal bestaan, myne of hulle s’n.