15. daarom hoor dan nou die woord van die Here, o oorblyfsel van Juda! So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: As julle werklik julle aangesig rig om na Egipte te trek en weggaan om daar as vreemdelinge te vertoef,
16. dan sal die swaard waar julle voor vrees, julle daar in Egipteland inhaal; en die honger waar julle voor bang is, sal daar in Egipte kort agter julle aankom, en julle sal daar sterwe.
17. Ja, al die manne wat hulle aangesig gerig het om na Egipte te trek om daar as vreemdelinge te vertoef, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood en die pes; en daar sal vir hulle niemand wees wat vryraak of ontvlug van die onheil wat Ek oor hulle bring nie.
18. Want so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Soos my toorn en my grimmigheid uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my grimmigheid oor julle uitgestort word as julle na Egipte trek; en julle sal wees ’n voorwerp van verwensing, van verbasing, van vervloeking en van smaad, en julle sal hierdie plek nie meer sien nie.
19. Die Here het oor julle gespreek, o oorblyfsel van Juda: Trek nie na Egipte nie! Weet verseker dat ek julle vandag waarsku.
20. Want julle het gedwaal ten koste van julle lewe, dat júlle my na die Here julle God gestuur het, met die woorde: Bid tot die Here onse God vir ons; en net soos die Here onse God sal sê, maak dit ons so bekend en ons sal dit doen.
21. So het ek julle dit dan vandag bekend gemaak, en julle het nie geluister na die stem van die Here julle God, naamlik na alles waarmee Hy my na julle gestuur het nie.
22. Weet dan nou verseker dat julle deur die swaard, die hongersnood en die pes sal sterwe in die plek waarheen julle verkies om te trek om daar as vreemdelinge te vertoef.