18. Toe antwoord Barug hulle: Uit sy mond het hy my al hierdie woorde voorgesê, en ek het hulle met ink in die boek geskrywe.
19. Daarop sê die vorste vir Barug: Gaan, verberg jou, jy en Jeremia, en laat geen mens weet waar julle is nie.
20. En hulle het na die koning in die voorhof gegaan — die rol het hulle weggesit in die kamer van Elisáma, die skrywer — en al die woorde voor die ore van die koning gemeld.
21. Toe stuur die koning Jehúdi om die rol te gaan haal; en hy het dit gaan haal uit die kamer van Elisáma, die skrywer. En Jehúdi het dit gelees voor die ore van die koning en van al die vorste wat by die koning staan,
22. terwyl die koning gesit het in die winterpaleis, in die negende maand, met die brandende vuurpan voor hom.