8. En ons het geluister na die stem van ons vader Jónadab, die seun van Regab, in alles wat hy ons beveel het, om geen wyn te drink al ons dae nie, ons, ons vroue, ons seuns en ons dogters;
9. en geen huise te bou om in te woon nie, en geen wingerd of landerye of saad te besit nie;
10. en ons het in tente gewoon en geluister en gedoen net soos ons vader Jónadab ons beveel het.
11. Maar toe Nebukadrésar, die koning van Babel, na die land opgetrek het, het ons gesê: Kom, laat ons na Jerusalem gaan vanweë die leër van die Chaldeërs en die leër van die Arameërs. So het ons dan in Jerusalem gebly.
12. Toe kom die woord van die Here tot Jeremia en sê:
13. So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Gaan sê aan die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem: Wil julle hieruit geen lering trek om na my woorde te luister nie? spreek die Here.
14. Die woorde van Jónadab, die seun van Regab, wat hy sy kinders beveel het om geen wyn te drink nie, het hulle gehou; want hulle het geen wyn gedrink tot vandag toe nie, maar het geluister na die gebod van hulle vader. En Ék het met julle gespreek, vroeg en laat, maar julle het na My nie geluister nie.