Jeremia 14:3-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. En die vernames onder hulle stuur hulle ondergeskiktes na die water; hulle kom by die bakke, hulle kry geen water nie; leeg kom hulle kanne terug; hulle het beskaamd gestaan en in die skande gekom en bedek hulle hoof.

4. Weens die land wat verslae is, omdat daar geen reën op die aarde is nie, kom die landbouers in die skande, hulle bedek hulle hoof.

5. Want selfs die wildsbok in die veld lam en gooi haar lam weg, omdat daar geen jong gras is nie.

6. En wilde-esels staan op die kaal heuwels, hulle snuif die wind op soos die jakkalse; hulle oë versmag, omdat daar geen gras is nie.

7. Hoewel ons ongeregtighede teen ons getuig, o Here, doen dit om u Naam ontwil; want ons afkerighede is baie, ons het teen U gesondig.

8. o Verwagting van Israel, sy Verlosser in tyd van benoudheid! Waarom sou U wees soos ’n vreemdeling in die land en soos ’n reisiger wat uitdraai om te vernag?

9. Waarom sou U wees soos ’n man wat verslae is, soos ’n held wat nie kan verlos nie? U is tog in ons midde, o Here, en u Naam is oor ons uitgeroep. Verlaat ons nie!

10. So sê die Here van hierdie volk: Só het hulle daarvan gehou om te swerwe, hulle het hul voete nie teruggehou nie; daarom het die Here geen behae in hulle nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en hulle sondes besoek.

11. Verder het die Here vir my gesê: Bid nie vir hierdie volk ten goede nie.

12. As hulle vas, luister Ek nie na hulle gesmeek nie; en as hulle brandoffer en spysoffer bring, het Ek in hulle geen behae nie; maar deur die swaard en die hongersnood en die pes maak Ek hulle tot niet.

13. Toe sê ek: Ag, Here Here, kyk, die profete sê vir hulle: Julle sal geen swaard sien en geen hongersnood hê nie; maar Ek sal julle ’n duursame vrede gee in hierdie plek.

14. En die Here het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ’n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart.

Jeremia 14