9. Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf.
10. Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.
11. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword.
12. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word.
13. Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel.
14. WAT baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?
15. As daar nou ’n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het,
16. en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie — wat baat dit?
17. Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.
18. Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.
19. Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.
20. Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?
21. Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie?
22. Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke?